Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 11 MAART 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SLUIT VANAAND OM 19:30 BY DIE SARL INTEGNET AAN

DIE SON HAAL SY SKELMSTREKE UIT

SAOG-BESOEKERS AAN SUID-AFRIKA - NUWE VERSOEK AAN OKOSA

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SLUIT VANAAND OM 19:30 BY DIE SARL INTEGNET AAN

Die volgende interaktiewe tegniese net of SARL Integnet sal vanaand, Sondagaand 11 Maart om 19:30 gehou word, met Vincent Harrison, ZS6BTY, as gasspreker. Die onderwerp sal wees antennas. Vincent sal kyk na HF antennas om DX te werk, insluitend dipole, vertikales en klein rigstralers. Hy sal fokus op die effek van die hoogte bo die grond, uitstralingspatrone en -hoeke. Hy sal ook kortliks kyk na antennas vir 80 en 160 meter. 'n PowerPoint-aanbieding kan van www.sarl.org.za afgelaai word, klik op Amateur Radio TODAY of klik op die skakel aan die einde van die hierdie nuusitem.

Klubs wat hul herhalers aan die konferensiebrug wil koppel moet besonderhede stuur aan artoday@sarl.org.za voor middag vandag.

DIE SON HAAL SY SKELMSTREKE UIT

Gedurende die afgelope week was daar verskeie sonfakkelwaarskuwings met ernstige sonuitbarstings wat 'n uitwerking op die aarde se magneetveld gehad het.

Soos die aarde se magnetiese veld natril van die impak van 'n koronale massa-uitwerping (KMU) op die 8ste Maart, is 'n tweede KMU op pad. Groot sonvlek AR 1 429 het 'n M6-klas sonfakkel op Vrydag ontketen en die uitbarsting het 'n wolk van plasma byna direk na die aarde gewerp. Voorspellers sê die KMU kon ons planeet bereik in die laat ure van die vorige nag of die vroeë ure van vandag. Sterk geomagnetiese storms is moontlik wanneer die wolk aankom. Gaan na http://spaceweather.com vir meer inligting en opdaterings.

SAOG-BESOEKERS AAN SUID-AFRIKA - NUWE VERSOEK AAN OKOSA

Vir die afgelope twee jaar het die SARL versoeke aan OKOSA gerig vir 'n SAOG-ooreenkoms soortgelyk aan die CEPT-lisensie-ooreenkoms wat toelaat dat besoekende amateurs uit CEPT-lande amateurradio in Suid-Afrika tot drie maande mag bedryf. Dieselfde geld vir klas A Suid-Afrikaans gelisensieerde amateurs wat lande besoek wat by die CEPT-ooreenkoms aangesluit het. OKOSA het ingestem om die versoek te neem na CRASA, die Kommunikasie Reguleerders-Vereniging van Suider-Afrika en dit is reeds in Desember gedoen. Dit is nou op die agenda vir die Maart-vergadering.

Op die onlangse gehoue OKOSA / SARL skakelingvergadering het die SARL OKOSA versoek om 'n tussentydse reëling te oorweeg om bedryf deur besoekende gelisensieerde radioamateurs uit SAOG-lande in Suid-Afrika toe te laat. Ter ondersteuning van hierdie versoek het die SARL aan die komitee gesê dat verskeie SAOG-lande reeds hierdie voorreg aan Suid-Afrikaanse amateurs verleen en dat dit 'n goeie buurskapgebaar sal wees om dieselfde te doen. Die OKOSA-afgevaardigdes het met die versoek saamgestem en het onderneem om dit na die OKOSA-Raad vir ondertekening te neem. Die SARL het die voorstel in skrif ingedien en wag op 'n skriftelike reaksie van die OKOSA-Raad.

WERK OP FREKWENSIES WAARVOOR JY GELISENSIEER IS

Tydens 'n onlangse wedstryd het dit aan die lig gekom dat klas B gelisensieerde radioamateurs werk op frekwensies waarvoor hulle nie gelisensieer is nie. ZU-lisensiehouers mag op die volgende bande werk: 80 en 40 meter, op 10 meter 28 050 - 28 150 en 28 300 - 28 500 kHz, op die 2 meter en 70 cm bande.

SARL-KANTOOR gesluit

Die SARL-kantoor sal gedurende Maart gesluit wees. Mariska Faasen is op vakansie en besoek familie oorsee. Tussen Henry Chamberlain en Francois Botha sal hulle aan e-pos en telefoonboodskappe aandag skenk. Stuur e-posse aan die gewone adres nl. admin@sarl.org.za.

ARRL HANDBOEK 2012 EN ANTENNABOEK BESKIKBAAR VANAF SAARDT

Die SA Amateurradio Ontwikkelingstrust het die ARRL 2012-handboek en die nuwe Antennaboek in hardeband te koop beskikbaar. Om van die posbestellingfasiliteit d.m.v. e-pos gebruik te maak, besoek www.amateurradio.org.za. Daar is ook 'n aantal ander interessante titels beskikbaar.

ZS2X SE 50 MHz BAKEN IN FLORIDA GEHOOR

Tim Joubert, ZS2X, wat 'n baken op 50 MHz op sy eiendom in werking het, het die volgende e-pos ontvang:

“'n Aantal ses meter operateurs in Suid-Florida, KMM4 in EL97 en KE4WBO in EL96, het 'n FSK-bakensein op 50,007 MHz vanoggend, 23 Februarie om 13:00 UTC gehoor met die antennas op ZS gerig. Die FSK-sein was erg vervorm a.g.v. Doppler. Nie een van K4MM of KE4WBO kon die bakenboodskap ontsyfer nie. Ek glo dat die sein moontlik die van ZS2X/b kon wees. Ons sal voortgaan om 50,007 MHz vir meer seine te monitor. 73 Terry Posey, K4RX, EM70.”

2012 SKRIKKELJAARUITDAGING

Net twee logstate is vir die 2012 skrikkeljaaruitdaging ontvang. Andrew Thompson, V51YJ, was met GG op 12 meter aktief en het 468 kontakte gemaak. Damien Lagan, ZR6DBL, was op HF en BHF bedrywig en het 8 kontakte gemaak.

Andrew is die wenner en sy ledegeld van die SARL vir 2012/2013 sal dus vir hom betaal word. Baie geluk Andrew.

Almal sal nou tot 29 Februarie 2016 moet wag vir die volgende skrikkeljaaruitdaging en die geleentheid om op daardie dag 'n logboekinskrywing te maak.

OOS-RAND KONSTRUKSIEDAG

Alle radioamateurs en elektronika-entoesiaste word vriendelik uitgenooi na die Oos-Randse konstruksiedag op Woensdag 21 Maart. Menseregtedag val in die middel van die week. Moenie 'n goeie dag se pret misloop nie. Gaan na die konstruksiedag. Almal is WELKOM.

Besonderhede is beskikbaar op die ERB-webtuiste, www.zs6erb.co.za.

Stuur e-pos aan zs6erb@vodamail.co.za vir besprekings.

Betalings moet teen 15 Maart 2012 gedoen word.

Neem u eie gereedskap en soldeerbout saam.

Sien u by die konstruksiebyeenkoms.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteit aan die toeneem is na die X-klas fakkels wat deur die reuse sonvlek 1 429 geproduseer is. Daar is 'n goeie kans vir verdere C- en X-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 83, bykans dubbel soveel as verlede week.

Met die hoër sonaktiwiteit is 10 m weer op-en-wakker. Al die DX-bande van 20 tot 10 m gaan pret wees met die moontlikheid van sporadiese 6 m openinge.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

11 Maart – Integnet om 19:30 SAT vanaand.
17/18 Maart - SARL BHF/UHF Analoog/Digitale kompetisie.
21 Maart - ZS6ERB se konstruksiedag.
30 Maart – Laaste dag vir insending van regulatoriese items vir bespreking met OKOSA aan artoday@sarl.org.za.
20 - 22 April SARL-konvensie in Pinetown.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003